YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 2

2
Daniël verklaar die droom van Nebukadnesar
1In die tweede regeringsjaar van koning Nebukadnesar het hy 'n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy nie kon slaap nie.
2Toe het hy die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers laat roep om sy droom vir hom uit te lê. Hulle het toe voor die koning kom staan 3en hy het vir hulle gesê: “Ek is ontsteld oor 'n droom wat ek gehad het en ek wil weet wat die droom beteken.”
4Die sterrekykers het die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning baie lank lewe! Vertel ons die droom, dan sal ons dit vir u uitlê.”
5Die koning sê toe vir die sterrekykers: “Ek het klaar besluit: as julle my nie die droom en sy uitleg kan gee nie, sal julle aan stukke gekap word en sal van julle huise puinhope gemaak word. 6Maar as julle die droom en sy uitleg gee, sal julle baie geskenke en groot eer van my ontvang. Gee my dus die droom en sy uitleg.”
7Hulle sê toe weer vir die koning: “U Majesteit moet die droom vir ons vertel, dan sal ons dit uitlê.”
8Toe sê die koning: “Ek weet goed julle wil net tyd wen omdat julle sien ek het klaar besluit 9dat as julle die droom nie uitlê nie, daar vir julle net een straf voorlê! Daarom het julle afgespreek om vir my 'n klomp leuens te vertel totdat die omstandighede mag verander. Vertel vir my die droom dat ek kan weet of julle sy uitleg kan gee.”
10Die sterrekykers het die koning geantwoord: “Daar is geen mens op aarde wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie. 11Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie.”
12Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring. 13Daar is toe 'n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word.
14Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak.
15Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. 16Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee.
17Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is 18en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie. 19Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in 'n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. 20Daniël het gesê:
“Mag die Naam van God altyd geprys word,
Hy aan wie die wysheid en die mag behoort,
21Hy wat tye en omstandighede verander,
wat konings afsit en konings aanstel,
wat aan die wyse manne die wysheid gee
en die verstand aan dié wat insig het,
22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar
en wat weet wat in die duisternis is;
by Hom is die lig.
23Ek loof en prys U, God van my voorvaders,
omdat U aan my wysheid en mag gegee het.
U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het,
U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.”
24Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.”
25Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.”
26Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?”
27Daniël het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u 'n droom, 'n visioen gehad. 29Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u 'n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het.
31“U het 'n visioen gehad. Daar was 'n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends. 32Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. 33Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. 34Toe u nog so kyk, breek daar 'n klip los sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. 35Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het 'n groot rots geword en het die hele aarde bedek. 36Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê.
37“U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee. 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. 39Ná u sal 'n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna 'n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. 40Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. 41Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op 'n koninkryk wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u gesien het, is daar yster tussen die klei. 42Die tone en voete, deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels swak sal wees. 43Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is: daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie 'n eenheid word nie, net soos yster nie met klei meng nie. 44In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur 'n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. 45En dat u 'n klip uit 'n rots sien losbreek het sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.”
46Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar 'n graanoffer en 'n wierookoffer aan hom geoffer moet word.
47Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.”
48Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. 49Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

Currently Selected:

DANIËL 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy