YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 21:1-16

HANDELINGE 21:1-16 AFR83

Nadat ons swaar van hulle afskeid geneem het, het ons aan boord gegaan. Ons het reguit koers gehou en by die eiland Kos aangekom. Die volgende dag het ons Rodos bereik en daarvandaan by Patara aangekom. Daar het ons 'n skip gekry wat na Fenisië toe sou vaar, en ons het aan boord gegaan en weggevaar. Ons het Siprus in sig gekry en is aan die suidekant daarvan verby Sirië toe. In Tirus, waar die skip sy vrag moes aflaai, het ons afgeklim. Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Maar toe die sewe dae verby was, het ons verder gereis, en hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid en van mekaar afskeid geneem. Daarna het ons aan boord gegaan, en hulle het omgedraai huis toe. Van Tirus af het ons die seereis voortgesit na Ptolemaïs toe. Daar het ons die gelowiges gegroet en 'n dag by hulle gebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het die evangelis Filippus, een van die sewe , opgesoek en by hom tuis gegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat die gawe besit het om te profeteer. Nadat ons reeds 'n hele paar dae daar was, het daar 'n profeet met die naam Agabus van Judea af aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, sy eie hande en voete daarmee vasgebind en gesê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.” Toe ons dit hoor, het ons en die mense daar vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. Toe antwoord Paulus: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe.” Toe ons hom nie kon oorreed nie, het ons daarin berus en gesê: “Laat die wil van die Here geskied.” Na 'n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek. Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds 'n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy