YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 2:18-29

DIE OPENBARING 2:18-29 AFR83

Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Haar volgelinge sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy