YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 22

22
Die stamme oos van die Jordaan vertrek na hulle gebied toe
1Josua het daarna die stamme Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam geroep 2en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses die dienaar van die Here julle beveel het en julle was gehoorsaam aan alles wat ek julle beveel het. 3Julle het hierdie hele tyd tot vandag toe nie julle broers in die steek gelaat nie en julle het gedoen wat die Here julle God julle beveel het. 4Nou het Hy aan julle broers 'n woonplek gegee soos Hy hulle beloof het. Gaan nou terug na julle eie woonplekke toe, na julle eie gebied oorkant die Jordaan wat Moses die dienaar van die Here aan julle toegeken het. 5Sorg net dat julle die gebod en die wet wat Moses die dienaar van die Here julle opgelê het, getrou onderhou, naamlik om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te onderhou, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.”
6Josua het hulle met 'n seënwens laat gaan, en hulle is na hulle woonplekke toe.
7Vir die een helfte van die Manassestam het Moses 'n gebied in Basan gegee, en vir die ander helfte het Josua wes van die Jordaan 'n gebied gegee saam met die ander stamme.
Toe Josua die stamme na hulle woonplekke toe laat gaan met 'n seënwens, 8het hy vir hulle gesê: “Gaan terug na julle woonplekke toe met groot rykdom, met groot troppe vee, met silwer, goud, koper en yster, met baie klere, maar deel die buit wat julle van julle vyande gevat het, met julle stamgenote.”
Die gedenkaltaar by die Jordaan
9Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam is toe van die Israeliete in Silo in Kanaän af weg om na Gilead toe te gaan, na hulle eie gebied wat in besit geneem is op die bevel van die Here deur Moses. 10Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar.
11Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant. 12Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. 13Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. 14Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep. 15Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme: 16“So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom! 17Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het. 18Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel. 19As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie. 20Akan seun van Serag was ontrou met wat aan die Here gewy was, en die toorn het teen die hele Israel losgebreek. Nie net hy het vir sy sonde gesterf nie.”
21Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê: 22“Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie. 23Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel. 24Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel? 25Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien. 26Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, 27maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’
28“Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ 29Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.”
30Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede. 31Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.”
32Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen. 33Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes. 34Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”

Currently Selected:

JOSUA 22: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy