YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 17

17
Die afgode van Miga
1Daar was 'n man uit die Efraimsberge. Sy naam was Miga. 2Hy het vir sy ma gesê: “Daar is dertien kilogram silwer van Ma gesteel. Ek het gehoor hoe Ma dit vervloek, maar dit is by my. Ek het dit gevat.”
Toe sê sy ma vir hom: “Mag die Here jou seën, my seun.”
3Die man het die dertien kilogram silwer vir sy ma teruggebring, en toe sê sy: “Ek wy die silwer in belang van my seun aan die Here. Jy moet daarvan 'n afgodsbeeld maak. Ek gee dit vir jou terug, my seun.”
4Nadat hy die silwer aan sy ma terugbesorg het, het sy sowat twee en 'n half kilogram daarvan gevat en vir 'n silwersmid gegee om 'n afgodsbeeld te maak. Dit is toe in Miga se huis gesit. 5Miga het naamlik sy eie tempel gehad en hy het 'n efodbeeld en afgodsbeeldjies gemaak. Toe het hy een van sy seuns as priester gewy, en die seun het Miga se priester geword.
6In daardie tyd was daar nog nie 'n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.
7Daar was 'n jongman uit Betlehem in Juda wat aan die Judastam behoort het. Hy was 'n Leviet en het as vreemdeling in Betlehem gewoon. 8Hy het van daar af weggegaan om 'n ander woonplek te gaan soek. Hy het op die Efraimsberge uitgekom by die huis van Miga om daar 'n heenkome te vind. 9Miga het vir hom gevra: “Waarvandaan kom jy?” en hy het geantwoord: “Ek is 'n Leviet uit Betlehem in Juda en ek is onderweg op soek na 'n woonplek.”
10Toe sê Miga vir hom: “Bly by my en wees vir my 'n leermeester en 'n priester, dan gee ek jou honderd en veertien gram silwer in 'n jaar, en kos en klere.”
11Die Leviet het ingestem om by die man te bly, en die jongman was vir Miga soos een van sy eie seuns. 12Miga het die Leviet as priester gewy, en die jongman het Miga se priester geword en in Miga se huis gebly. 13Toe sê Miga: “Nou weet ek die Here sal vir my goed wees, want die Leviet het my priester geword!”

Currently Selected:

RIGTERS 17: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy