YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 28:10-22

GENESIS 28:10-22 AFR83

Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. Teen sononder het hy by 'n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar 'n klip vir 'n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. Hy het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.” Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus. Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal 'n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U 'n tiende gee.”

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy