YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 18:1-15

GENESIS 18:1-15 AFR83

Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig. Hy het gesê: “Menere, u sal my 'n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. Laat ek eers 'n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek 'n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.” Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!” Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.” Daarna het hy na die beeste toe gedraf en 'n mooi jong kalf gevat en vir 'n slaaf gegee om dit gou voor te berei. Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien. Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.” Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara 'n seun hê.” Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant. Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring, en daarom het sy by haarself gelag en gedink: sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is? Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik 'n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.” Sara het geskrik en toe 'n leuen vertel. “Ek het nie gelag nie,” het sy gesê. Maar die Here het gesê: “Nee, jy het gelag.”

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy