YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 5:1-10

2 SAMUEL 5:1-10 AFR83

Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê: “Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees; ja, jy moet heerser oor Israel wees!” So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. In Hebron was hy sewe en 'n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda. Die koning en sy manskappe het teen Jerusalem opgetrek. Die Jebusiete het hierdie gebied bewoon. Daar is aan Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou.” Ja, daar is beweer: “Dawid sal hier nie inkom nie!” En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad. Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat 'n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.” Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word 'n blinde of 'n kreupele mag nie in die tempel inkom nie. Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis. Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy