YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 2:8-32

2 SAMUEL 2:8-32 AFR83

Maar die hoof van Saul se leër, Abner seun van Ner, het vir Is-Boset seun van Saul gevat, hom laat deurtrek na Maganajim toe en hom koning gemaak oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin, ja, oor die hele Israel. Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar geregeer. Net die Judastam het vir Dawid ondersteun. Dawid was sewe en 'n half jaar in Hebron koning oor Juda. Abner seun van Ner het met Is-Boset se soldate van Maganajim af na Gibeon toe opgeruk. Joab seun van Seruja het hulle met Dawid se soldate tegemoet getrek en hulle by die Gibeondam gekry. Joab-hulle het aan die een kant van die dam gaan sit, en die ander aan die oorkant. Abner skreeu toe vir Joab: “Laat die jong manne eers hier voor ons 'n oorlogspel kom speel!” “Hulle kan dit maar doen,” was Joab se antwoord. Twaalf man het toe namens Benjamin en Is-Boset na vore gekom, en so ook twaalf van Dawid se soldate. Maar elkeen het sy opponent aan die hare beetgekry en met die swaard onder die ribbes gesteek, en hulle het gelyk omgekom. Daarom word dié plek in Gibeon die Ribbebeensdeel genoem. Daardie dag het daar toe 'n hewige geveg ontwikkel, en Abner en die manskappe van Israel is deur Dawid se soldate verslaan. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was vinnig soos 'n wildsbok. Hy het Abner agternagesit en knaend op sy spoor gebly. Abner het vir hom oor sy skouer gevra: “Is dit jy, Asael?” “Ja, dis ek,” was die antwoord. Abner sê toe vir hom: “As jy agter 'n uitrusting aan is, draai weg in enige rigting, oorrompel enige jong soldaat en vat syne.” Maar hy wou nie wegdraai nie. Abner het weer vir hom gesê: “Gee pad agter my! Waarom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar hy het bly weier om weg te draai. Toe steek Abner hom sommer na agter toe met die spies in die maag, sodat dit by sy rug uitkom. Asael het net daar in sy spore dood neergesak. Elkeen wat op die plek gekom het waar hy geval het, het 'n oomblik gaan staan. Daarna het Joab en Abisai vir Abner agternagesit. Sononder het hulle by die Elmboogrant aangekom, regoor die fontein langs die pad na Gibeon se weiveld toe. Die Benjaminiete het almal bo-op die rant gestaan en in 'n bondel agter Abner saamgedrom. Toe skreeu Abner vir Joab: “Moet die swaard aanhou verteer? Besef jy nie dat die uiteinde net bitterheid is nie? Wanneer gaan jy eendag die manskappe beveel om nie meer hulle broers te agtervolg nie?” Joab het geantwoord: “Waarlik, God weet dit, as jy nie nou gepraat het nie, sou ons die volk tot môreoggend laat veg het, en dit nogal broer teen broer.” Toe het Joab die ramshoring geblaas. Al die manskappe het gaan staan en Israel nie meer agtervolg nie en hulle het nie verder geveg nie. Abner en sy manskappe het die nag deur met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek en Maganajim al met die Bitronloop langs bereik. Joab het die agtervolging van Abner gestaak en die manskappe bymekaargeroep. Toe hulle Dawid se soldate tel, was daar behalwe Asael nog negentien man kort. Dawid se vegters het egter baie Benjaminiete verslaan. Onder Abner se soldate alleen was drie honderd en sestig dood. Joab-hulle het vir Asael opgetel en in die familiegraf in Betlehem gaan begrawe. Hierna het Joab en sy soldate die hele nag deur getrek en ligdag was hulle in Hebron.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy