YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 30:25-43

GENESIS 30:25-43 AFR83

Nadat Ragel vir Josef in die wêreld gebring het, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my trek. Ek wil na my geboorteland toe gaan. Gee my nou my vrouens en kinders vir wie ek by u gewerk het, want ek wil weggaan. U weet hoe goed ek vir u gewerk het.” Maar Laban het vir hom gesê: “Dink tog aan wat jy vir my beteken. Ek het die tekens gelees en agtergekom dat die Here my seën om jou ontwil.” Verder het Laban vir Jakob gesê: “Stel self jou loon vas, en ek betaal jou dit om vir my te werk.” Daarop sê Jakob vir hom: “U weet hoe ek vir u gewerk het, en hoe dit met u kudde gegaan het terwyl hulle by my was. Die bietjie wat u gehad het voor ek gekom het, het baie geword, want die Here het u geseën vandat ek by u gekom het. Wanneer sal ek vir my huis kan begin werk?” Toe vra Laban: “Wat moet ek jou betaal?” en Jakob antwoord: “U hoef my niks te betaal nie. Ek sal weer u kleinvee oppas as u my dit wil laat doen. Ek sal vandag al u kleinvee deurgaan om al die gestreepte en bont skaaplammers en al die swart skape en die bont en gestreepte bokke af te keer. Dit sal my betaling wees. Wanneer u dan eendag kom kyk na wat ek by u verdien het, sal dit duidelik wees of ek eerlik was of nie: alles onder my bokke wat nie gestreep of bont is nie, en al die skape wat nie swart is nie, sal vee wees wat ek gesteel het.” Laban het geantwoord: “Goed! Laat dit wees soos jy gesê het.” Maar dieselfde dag nog het Laban al die gevlekte en bont bokramme en al die gestreepte en bont bokooie afgekeer en ook alles waaraan iets wits was en al die swart skape, en dit alles onder die sorg geplaas van sy seuns. Hy het hierdie trop van hom op 'n afstand van drie dae se trek van Jakob af laat oppas. Jakob self het Laban se ander vee opgepas. Jakob het toe jong lote van populiere, amandels en plataanbome gevat en stroke daarvan afgeskil, sodat daar wit strepe op die lote was. Hy het die lote wat hy so afgeskil het, in die waterkrippe gesit, reg voor die kleinvee waar hulle kom suip het. Wanneer die ooie dan op hitte kom en kom suip, is hulle by die lote gedek en het hulle gevlekte en gestreepte en bont lammers gekry. Jakob het die skape uitgekeer en hulle laat kyk in die rigting van die gevlekte en swart vee van Laban. So het Jakob vir hom sy eie kuddes opgebou en hy het hulle nie by Laban se kleinvee laat kom nie. Wanneer die sterk diere gedek moes word, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit sodat hulle by die lote gedek kon word. Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. So het dit gekom dat Laban die swakkes gekry het en Jakob die sterkes. Die man het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy