YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 19

19
Vreugde in die hemel
1Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van 'n groot menigte in die hemel wat uitroep:
“Prys die Here!
Die oorwinning, die heerlikheid
en die mag behoort aan ons God!
2Regverdig en reg is sy oordele,
want Hy het die oordeel voltrek
oor die sedelose vrou
wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes het.
Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek.”
3Verder het hulle uitgeroep:
“Prys die Here!
Haar rook styg tot in alle ewigheid op.”
4Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê:
“Amen! Prys die Here!”
Die bruilof van die Lam
5Toe het daar 'n stem van die troon af gekom wat gesê het:
“Loof ons God, al sy dienaars,
dié wat Hom vrees, klein en groot!”
6Ek het toe iets gehoor soos die geluid van 'n groot menigte, soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep:
“Prys die Here!
Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.
7Laat ons bly wees en juig
en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek,
en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.
8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.”
Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.
9Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.”
Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.”
10Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid.
“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”
Die Ruiter op die wit perd
11Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. 12Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. 13Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.”
14Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. 16Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”
17Toe het ek 'n engel by die son sien staan. Hy het met 'n harde stem uitgeroep en vir al die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaal wat God gereed maak! 18Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.”
19Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs bymekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. 20Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. 21Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis.

Currently Selected:

DIE OPENBARING 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy