YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 13

13
Die dier uit die see
1En toe het ek 'n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. 2Die dier wat ek gesien het, het soos 'n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van 'n beer en sy bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. 3Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop. 4Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?”
5Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen. 6Hy het teen God begin laster, hy het God se Naam en sy woonplek en dié wat in die hemel bly, belaster. 7Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie. 8Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie.
9As iemand kan hoor, moet hy hierna luister!
10As iemand bestem is
vir gevangenskap, gaan hy in gevangenskap;
as iemand bestem is om met 'n swaard doodgemaak te word,
word hy met 'n swaard doodgemaak.
Hier het die gelowiges volharding en geloof nodig.
Die dier uit die aarde
11Toe het ek 'n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos 'n lam s'n, maar hy het soos 'n draak gepraat. 12Hy oefen al die gesag van die eerste dier namens hom uit.
Hy maak dat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, dié een waarvan die dodelike wond genees het. 13Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. 14Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei. Hy sê die bewoners van die aarde ook aan om 'n beeld op te rig vir die dier wat die litteken van die slagmes het en wat weer lewend geword het. 15Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie.
16Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naam.
18Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is 'n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.

Currently Selected:

DIE OPENBARING 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy