YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 15

15
1'n Sagte antwoord laat woede bedaar;
'n krenkende woord laat woede ontvlam.
2Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks;
dwase mense sê net dwase dinge.
3Die Here sien oral;
Hy hou slegte en goeie mense dop.
4Kalmerende woorde bring lewe,
skynheilige woorde breek mense.
5'n Dwaas verag wat sy vader hom leer;
wie hom laat teregwys, is verstandig.
6In die huis van die regverdige is daar groot rykdom;
die inkomste van die goddelose is vir hom tot nadeel.
7Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê;
dwase het verdraaide opvattings.
8Die Here het 'n afsku van die offers van goddeloses,
maar Hy aanvaar die gebede van opregtes.
9Die Here het 'n afsku van die lewenswyse van goddeloses;
maar Hy het dié lief wat volgens sy wil lewe.
10Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word;
wie teregwysing haat, sal sterf.
11Vir die Here is die doderyk
en die onderaardse diepte nie verborge nie,
hoeveel minder die gedagtes van mense.
12'n Ligsinnige mens hou nie daarvan
dat hy tereggewys word nie;
hy word nie 'n wyse mens nie.
13Blydskap laat 'n mens se gesig straal;
smart maak 'n mens terneergedruk.
14'n Verstandige mens is op soek na kennis;
'n dwaas voed homself met dwaasheid.
15Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens;
die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees.
16Liewer min hê en die Here dien
as groot rykdom en bekommernis daaroor.
17Liewer net 'n bietjie groente en liefde daarby
as 'n vetgemaakte os en haat daarby.
18'n Humeurige mens soek skoor;
'n verdraagsame mens maak rusies uit die wêreld.
19'n Luiaard se pad is met dorings besaai;
'n opregte mens het 'n gelyk pad.
20'n Wyse seun maak sy ouers bly,
'n dwase mens minag hulle.
21Iemand wat verstand kortkom,
vind vreugde in sy dwaasheid;
'n mens met insig leef reg.
22Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie;
dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.
23'n Mens vind vreugde daarin as hy die antwoord het;
wat is beter as die regte woord op die regte tyd?
24'n Verstandige mens se pad loop boontoe, na die lewe toe;
hy ontkom die doderyk daar onder.
25Die Here breek die hoogmoedige se huis af
en beskerm die grond van die weduwee.
26Die Here het 'n afsku van bose planne;
aangename woorde is vir Hom aanneemlik.
27Wie hom verryk ten koste van 'n ander,
maak dat sy gesin verstoot word;
wie omkoopgeskenke weier, sal lewe.
28'n Regverdige mens dink voor hy antwoord;
goddelose mense sê net slegte dinge.
29Die Here is ver van die goddeloses af,
maar Hy hoor die gebed van die regverdiges.
30Stralende oë bring blydskap,
goeie tyding verkwik 'n mens.
31Wie op 'n teregwysing ag slaan, sal lewe
en 'n tuiste vind tussen mense wat wysheid het.
32Wie onderrig in die wind slaan, gee nie om vir homself nie;
wie op 'n teregwysing ag slaan, kry insig.
33Om die Here te dien, is om onderrig te word in wysheid;
nederigheid kom voor eer.

Currently Selected:

SPREUKE 15: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy