YouVersion Logo
Search Icon

FILIPPENSE 3

3
Die ware geregtigheid
1Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.
2Pas op vir daardie dwaalleraars;
pas op vir daardie mense wat kwaad stig;
pas op vir daardie betekenislose besnydenis!
3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, 6in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.
7Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
15Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. 16In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.
17Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

Currently Selected:

FILIPPENSE 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy