YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 24:13-35

LUKAS 24:13-35 AFR83

Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan, en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê. Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy