YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 11

11
Onderrig oor die gebed
(Matt. 6:9-15; 7:7-11)
1Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
2En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:
“Vader, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom.
3Gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4en vergeef ons ons sondes,
want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie.”
5Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’ 8Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
9“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? 12Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
Jesus en Beëlsebul
(Matt. 12:22-30; Mark. 3:20-27)
14Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder, 15maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.” 16Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra.
17Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar. 18As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul. 19As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is. 20Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.
21“Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig. 22Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit.
23“Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”
Die terugkoms van die onrein gees
(Matt. 12:43-45)
24“Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ 25Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. 26Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.”
Die ware geluk
27Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!”
28Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”
Die teken van Jona
(Matt. 12:38-42; Mark. 8:12)
29Toe die mense aanhou saamdrom, het Jesus hulle begin toespreek en gesê: “Die mense van hierdie tyd is 'n verdorwe geslag. Hulle vra 'n wonderteken, maar daar sal geen teken aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona. 30Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die Seun van die mens 'n teken wees vir die mense van vandag. 31Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo! 32Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!”
Die lig van die liggaam
(Matt. 5:15; 6:22-23)
33“'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan weg in 'n kelder of onder 'n emmer nie. Nee, jy sit dit op 'n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. 34Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. 35Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. 36As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”
Jesus bestraf die Fariseërs en die wetgeleerdes
(Matt. 23:1-36; Mark. 12:38-40; Luk. 20:45-47)
37Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 38Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. 39Maar die Here sê vir hom:
“Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. 40Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? 41Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees. 42Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.
43“Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word. 44Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte waaroor die mense loop sonder om dit te weet.”
45Toe sê een van die wetgeleerdes vir Jesus: “Meneer, as u so praat, beledig u ons ook.”
46Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie.
47“Ellende wag vir julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. 48So bewys julle dat julle die dade van julle voorvaders goedkeur, want húlle het die profete vermoor en júlle bou die grafte. 49Daarom het Die Wysheid van God gesê: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, maar hulle sal sommige van hulle doodmaak en ander vervolg.’ 50So is die huidige geslag dan skuldig aan die bloed van al die profete wat vergiet is van die skepping van die wêreld af: 51van die bloed van Abel af tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel doodgemaak is. Ja, Ek sê vir julle, hulle bloed sal van die huidige geslag geëis word!
52“Ellende wag vir julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en dié wat wel wou ingaan, vir hulle het julle verhinder.”
53Toe Hy uit die huis weggaan, het die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom heftig begin aanval. Oor allerlei dinge het hulle aan Hom strikvrae gestel 54en fyn opgelet of Hy iets sou sê waarop hulle Hom kon vastrek.

Currently Selected:

LUKAS 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy