YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 21:1-45

JOSUA 21:1-45 AFR83

Die familiehoofde van die Leviete het na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die familiehoofde van die Israelitiese stamme toe gekom in Silo in Kanaän en vir hulle gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.” Die Israeliete het toe die bevel van die Here uitgevoer en uit hulle woongebiede vir die Leviete dorpe met weivelde gegee. Daar is vir die Kehatgroep geloot, en aan hierdie Leviete uit die geslag van die priester Aäron is dertien stede toegeken in die stamgebied van Juda, Simeon en Benjamin. Vir die res van die Kehatgroep is tien stede geloot in die gebied van die families in die stam Efraim, die stamgebied Dan en dié van die halwe Manassestam. Vir die Gersongroep is dertien stede geloot in die gebiede van die families in die stam Issaskar, die stamgebied van Aser en Naftali en dié van die halwe Manassestam in Basan. Vir die families in die Merarigroep was daar twaalf stede in die stamgebied van Ruben, Gad en Sebulon. Die Israeliete het die stede met weivelde aan die Leviete toegeken deur loting, soos die Here deur Moses beveel het. In die stamgebied van Juda en Simeon is die volgende stede wat by name aangedui is, toegeken aan die Leviete uit die nageslag van Aäron wat tot die Kehatgroep behoort het. Die eerste loting was vir hulle. Aan hulle is eerstens Kirjat-Arba toegeken, dit is Hebron in die Judaberge met sy weivelde rondom. Arba was die voorvader van die Enakiete. Die lande en die buiteposte van die stad is aan Kaleb seun van Jefunne as eiendom toegeken. Die nageslag van die priester Aäron het dus ontvang: die asielstad Hebron, en Libna, Jattir, Estemoa, Golon, Debir, Ajin, Jutta en Bet-Semes, elkeen met sy weiveld, nege stede van dié twee stamme, en van die stam Benjamin Gibeon, Geba, Anatot en Almon, die vier stede elkeen met sy weiveld. Die priesters uit die nageslag van Aäron het dus altesaam dertien stede met hulle weivelde gehad. Vir die Levitiese families in die res van die Kehatgroep is eerstens stede geloot in die stamgebied van Efraim. Aan hulle is toegeken: die asielstad Sigem in die Efraimsberge en Geser, Kibsajim en Bet-Goron, dié vier stede elkeen met sy weiveld; in die stamgebied van Dan: Elteke, Gibbeton, Ajalon en Gat-Rimmon, dié vier stede elkeen met sy weiveld; en in die gebied van die halwe Manassestam: Taänak en Gat-Rimmon, dié twee stede elkeen met sy weiveld. Die families in die res van die Kehatgroep het dus altesaam tien stede met hulle weivelde gehad. Aan die Levitiese families in die Gersongroep is in die gebied van die ander helfte van die Manassestam toegeken: die asielstad Golan in Basan, en Astarot, dié twee stede elkeen met sy weiveld; in die stamgebied van Issaskar: Kisjon, Daberat, Jarmut en En-Gannim, dié vier stede elkeen met sy weiveld; in die stamgebied van Aser: Misal, Abdon, Gelkat en Regob, dié vier stede elkeen met sy weiveld; en in die stamgebied van Naftali die asielstad Kedes in Galilea, en Gammot-Dor en Kartan, dié drie stede elkeen met sy weiveld. Die Gersonfamilies het dus altesaam dertien stede met weivelde gehad. Aan die Levitiese families wat oorgebly het, dié in die Merarigroep, is in die stamgebied van Sebulon toegeken: Jokneam, Karta, Dimna en Nahalal, dié vier stede elkeen met sy weiveld; in die stamgebied van Ruben: Beser, Jahas, Kedemot en Mefaät, dié vier stede elkeen met sy weiveld; en in die stamgebied van Gad die asielstad Ramot in Gilead, Maganajim, Gesbon, Jaser, dié vier stede elkeen met sy weiveld. Vir die oorblywende families, dié in die Merarigroep, is dus altesaam twaalf stede geloot. Die Leviete het altesaam ag en veertig stede met weivelde gehad in die woongebied van die Israeliete. Elke stad het weiveld rondom hom gehad. Dit was die geval met al dié stede. Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon. Die Here het hulle na alle kante toe rus gegee soos Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. Nie een van al hulle vyande kon teen hulle standhou nie. Die Here het al hulle vyande in hulle mag oorgegee. Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy