YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 42

42
Die Here waarsku die oorgeblewe Judeërs om nie te vlug nie
1Al die leëraanvoerders, Joganan seun van Kareag, Asarja seun van Hosaja, al die mense, klein en groot, het na die profeet Jeremia toe gekom 2en vir hom gevra: “Doen tog asseblief wat ons vra, bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het. Soos jy ons hier sien, is ons die klompie wat oor is uit baie. 3Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen.”
4Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”
5Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie. 6Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.”
7Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom. 8Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep 9en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê: 10As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie. 11Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. 12Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan. 13Maar as julle die Here julle God nie wil gehoorsaam nie, as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, 14as julle sê: “Nee, ons wil Egipte toe waar ons nie oorlog sal sien nie, nie die ramshoring sal hoor blaas om te gaan veg nie en nie honger sal ly nie, ons wil daar gaan bly”, 15hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar, 16sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf. 17Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie. 18Ja, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Soos my toorn en my gramskap uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my toorn oor julle uitgestort word as julle na Egipte toe gaan. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder, en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.
19Die Here het vir julle gesê, julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!
Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, 20julle maak 'n fout! Julle lewe is op die spel. Julle het my na die Here julle God toe gestuur en gevra: ‘Bid vir ons tot die Here ons God, sê vir ons alles wat die Here ons God sê, ons sal dit doen.’ 21Maar noudat ek vandag vir julle gesê het wat Hy sê, is julle ongehoorsaam aan die Here julle God, aan alles wat Hy my opgedra het om vir julle te sê. 22Weet nou verseker dat julle deur oorlog, deur hongersnood en deur pes sal sterf op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

Currently Selected:

JEREMIA 42: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy