YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 59

59
Ons sondes kla ons aan
1Die arm van die Here is nie te kort om te help nie
en sy oor is nie te doof om te hoor nie.
2Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het
tussen julle en julle God,
dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie
en nie na julle wil luister nie.
3Julle hande is met bloed bevlek,
julle vingers met onreg.
Julle praat net leuens,
julle bedink net onreg.
4Niemand stel sy saak eerlik nie,
geen uitspraak is betroubaar nie.
Almal vertrou op leë woorde,
wat hulle sê, is nie waar nie,
hulle is swanger van kwaad,
hulle bring onreg voort.
5Hulle broei slangeiers uit,
hulle weef spinnerakke.
Wie van daardie eiers eet, sterf;
as dit oopgebreek word, kom daar slange uit.
6Hulle spinnedrade deug nie vir klere nie,
hulle kan hulle nie toemaak met wat hulle gemaak het nie;
hulle dade is misdade,
hulle pleeg net geweld.
7Hulle is daarop uit om kwaad te doen,
hulle aarsel nie om onskuldige bloed te vergiet nie.
Hulle planne is bose planne:
oral waar hulle gaan, is daar verwoesting en ondergang.
8Hulle ken nie so iets soos 'n pad van vrede nie,
waar hulle loop, is daar geen reg nie;
hulle loop krom paaie,
wie hulle volg, sal nie vrede ken nie.
9Daarom is daar geen sprake
van reg en geregtigheid vir ons nie.
Ons wag op lig, maar dit bly donker,
ons wag op 'n straaltjie lig, maar ons pad bly pikdonker.
10Ons tas teen die mure soos blindes,
ons tas rond soos mense wat geen oë het nie.
Ons struikel helder oordag soos in die skemer,
ons is soos dooies onder gesonde mense.
11Ons is almal soos grommende bere,
soos duiwe wat kla en kla.
Ons wag op reg, maar daar is geen reg nie,
op redding, maar dit bly ver van ons af.
12Ons oortredings teen U is baie,
ons sondes kla ons aan.
Ons oortredings bly ons by,
ons bly bewus van ons sondes:
13die oortreding en die geveinsdheid teenoor die Here,
die ontrou teenoor ons God,
die beplanning van onderdrukking, die verdraaiing van die reg,
die uitdink en rondvertel van leuens.
14Die reg het van die toneel verdwyn,
die geregtigheid is ver van ons af,
want die waarheid struikel waar daar reg gespreek word,
eerlikheid kan nie daar inkom nie.
15Die waarheid het verdwyn,
wie ophou om kwaad te doen, word daaroor vervolg.
Die Here het dit gesien
en dit is verkeerd in sy oë dat daar geen reg is nie.
16Hy sien dat daar niemand tussenbeide tree nie,
Hy is verbaas daaroor.
Daarom tree Hy self op
en laat Hy self sy geregtigheid geld.
17Hy trek geregtigheid aan soos 'n pantser
en redding is die helm op sy kop;
Hy trek straf aan as klere,
Hy hang woede om Hom soos 'n mantel.
18Hy vergeld volgens verdienste:
toorn vir sy teëstanders,
straf vir sy vyande,
vergelding vir die eilande soos hulle verdien.
19Van oos tot wes sal die Naam
en die mag van die Here geëer word.
Wanneer die teëstander aanstorm soos 'n rivier,
jaag die Gees van die Here hom op loop.
20Die Here kom na Sion toe as Verlosser,
na dié toe in Jakob wat hulle van hulle sonde bekeer.
So sê die Here.
21Wat My betref, sê die Here,
dit is my verbond met die volk:
my Gees wat op jou is
en my woorde wat Ek in jou mond lê,
sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders
en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here,
nie nou nie en nooit nie.

Currently Selected:

JESAJA 59: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy