YouVersion Logo
Search Icon

GALASIËRS 6

6
Dra mekaar se laste
1Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. 2Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. 3As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. 4Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk. 5Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.
6Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.
7Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. 8Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.
Laaste waarskuwing en groet
11Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!
12Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik 'n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. 13Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. 14Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15Of 'n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is. 16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.
17Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.
18Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.

Currently Selected:

GALASIËRS 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy