YouVersion Logo
Search Icon

EFESIËRS 6

6
Ouers en kinders
(Vgl. Kol. 3:20-21)
1Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. 2“Eer jou vader en jou moeder” is 'n baie belangrike gebod. En daar is nog 'n belofte by: 3“sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.”
4En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.
Eienaars en slawe
(Vgl. Kol. 3:22 – 4:1; 1 Pet. 2:18-25)
5Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is. 6Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. 7Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. 8Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry.
9En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.
Die Christen se wapenrusting
10Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.
14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.
18Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. 19Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. 20Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.
Slotwoord
21Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet, die getroue dienaar in diens van die Here, sal julle alles vertel, sodat julle ook kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen. 22Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en, sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem.
23Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus! 24Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.

Currently Selected:

EFESIËRS 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy