YouVersion Logo
Search Icon

EFESIËRS 5

5
1Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was.
3Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.
Lewe as mense van die lig
6Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. 8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12Dit is 'n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.
18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Man en vrou
(Vgl. Kol. 3:18-19; 1 Pet. 3:1-7)
21Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
22Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. 23Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. 24Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
31Daar staan in die Skrif: “Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” 32Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Currently Selected:

EFESIËRS 5: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy