YouVersion Logo
Search Icon

1 JOHANNES 3

3
1Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.
2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.
4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.
7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.
9Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.
Liefde vir mekaar
11Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. 12Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg.
13Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. 14Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. 15Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. 16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?
'n Goeie gewete voor God
18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 19Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. 20As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.
21Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; 22en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. 23En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. 24Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.

Currently Selected:

1 JOHANNES 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy