YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 9

9
Die regte en pligte van 'n apostel
1Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle wat aan die Here behoort, nie die vrug van my werk nie? 2Al is ek vir ander nie 'n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap.
3My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít: 4het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie? 5Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat 'n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie? 6Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie? 7Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?
8Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie? 9In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer? 10Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang. 11As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes? 12As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie?
Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie. 13Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie? 14So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang. 15Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie! 16As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! 17As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is 'n taak wat aan my toevertrou is. 18Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.
19Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. 20Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. 21Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.
24Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy