YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 14

14
Die gawe om te profeteer
1Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer. 2Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie, want deur die Gees sê hy onbegryplike dinge. 3Iemand wat profeteer, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en vertroos. 4Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op. 5Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.
6En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek 'n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel.
7Dit is net soos met lewelose instrumente wat 'n klank afgee, soos 'n fluit of 'n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word?
8En as die beuel 'n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak? 9So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind! 10Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie. 11Maar as ek 'n taal nie ken nie, sal die een wat dit praat, vir my onverstaanbaar wees en ek vir hom. 12Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt.
13Daarom moet hy wat ongewone tale of klanke gebruik, bid om die gawe om dit te kan uitlê, 14want as ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie. 15Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand. 16Anders, as jy met die gees 'n dankgebed doen, hoe sal 'n gewone mens wat daar teenwoordig is, op jou dankgebed “Amen” kan sê? Hy verstaan mos nie wat jy sê nie. 17Jou dankgebed is wel goed, maar ander mense word nie daardeur geestelik opgebou nie.
18Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal. 19Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke.
20Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse. 21In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê:
“Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat,
en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.”
22So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie.
23As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone tale of klanke en daar kom buitestaanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van julle verstand af nie? 24Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom 'n ongelowige of 'n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek. 25Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!”
Die goeie orde in die gemeente
26Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik 'n bydrae om te lewer: 'n psalm, 'n onderwysing, 'n openbaring, 'n ongewone taal of klank, 'n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop.
27Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê. 28As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat.
29Wat die profete betref, twee of drie kan aan die woord kom, en die ander moet beoordeel wat hulle sê. 30Maar as 'n ander een wat daar sit, 'n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly. 31Julle kan almal profeteer, maar een vir een, sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word. 32'n Profeet het immers beheer oor sy gees. 33God is tog nie 'n God van wanorde nie, maar van orde en vrede.
Soos in al die Christelike gemeentes 34moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. 35As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die erediens te praat.
36Het die woord van God miskien van julle af uitgegaan? Of het dit julle alleen bereik?
37Iemand wat dink dat hy 'n profeet is of 'n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, 'n bevel van die Here is. 38Maar as iemand dit nie erken nie, sal God hom ook nie erken nie.
39Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer en moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie. 40Alles moet egter gepas en ordelik geskied.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 14: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy