YouVersion Logo
Search Icon

Efesiërs 4

4
Christene en die kerk is een
1Ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. Dit wys hoe ernstig ek oor hierdie dinge is, en juis daarom vra ek julle mooi: leef so dat God trots kan wees dat Hy julle na Hom toe geroep het. 2Moenie voor op die wa wees nie en behandel ander mense so dat dit vir hulle lekker is om by julle te wees. As iemand jou kwaad maak of irriteer, beheer jouself deur steeds mooi teenoor hom op te tree. Laat liefde julle lojaal teenoor mekaar hou, ook wanneer julle voel julle het nou vir eers genoeg van mekaar gehad. 3Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees” en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar. Ons moet nie toelaat dat enigiets tussen ons kom wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie. God is nie verdeel nie. 4Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. 5Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. 6En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal.
Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen. 7Hierdie spesiale geskenke het Hy vir ons gegee sonder dat een van ons dit verdien het. 8Daarom sê die Skrif van Jesus:
“Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.”
9-10(Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.)
Jesus sorg vir sy kerk
11Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels. 12Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen. 13Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self. 14Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly. 15Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam. 16Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help.
Los julle ou manier van lewe - leef nuut
17Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie. 18Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle. 19Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie.
20Julle het Christus egter nie so leer ken nie. 21Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom. 22Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. 23Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. 24Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek.
Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy.
25Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God. 26As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie. 27Moenie die duiwel kans gee om jou vas te trek nie. 28As iemand ’n lewe gemaak het deur ander mense se goed te vat, moet hy dadelik daarmee ophou. Hy moet vir hom ’n behoorlike werk kry en sy brood eerlik verdien. Hy sal dan nie net vir homself kan sorg nie, maar ook nog genoeg oorhê om vir mense wat niks het nie, iets te gee. 29Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak nie. As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan. 30Moenie die Heilige Gees wat God vir julle gegee het, se hart seermaak nie. Dat die Gees in julle is, is die bewys dat julle aan God behoort. So sal dit bly tot op die dag dat ons finaal van die sonde ontslae sal wees. 31Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie. 32Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.

Currently Selected:

Efesiërs 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy