YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 15:11-32

LUKAS 15:11-32 AFR53

HY het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word. En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag. Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy