YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 3

3
Nikodemus besoek Jesus in die nag
1Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier onder die Jode. 2Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. Niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen as God nie met hom is nie.”
3Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo#3:3 Of van Bo; of opnuut; of weer. gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
4Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?”
5Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie. 6Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore#3:7 Of opnuut gebore. word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
9Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?”
10Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie? 11Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie. 12As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel? 13Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens. 14Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word 15sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.
16“God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 17God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18“Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie. 19Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos. 20Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie. 21Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”
Johannes die Doper getuig dat hy nie self die Messias is nie
22Hierna het Jesus en sy dissipels na die Judea-gebied vertrek. Hy het daar saam met die dissipels oorgebly en mense gedoop. 23Johannes was ook besig om by Enon, in die omgewing van Salim, te doop omdat daar genoeg water was. Die mense het daarheen gestroom en is gedoop. 24Op daardie tydstip was Johannes nog nie in die tronk gegooi nie.
25Daar het toe ’n meningsverskil oor reinigingsgebruike ontstaan tussen Johannes se dissipels en ’n Joodse man. 26Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, die man wat aan die oorkant van die Jordaanrivier saam met u was, oor wie u getuig het, Hy doop ook en almal stroom na Hom toe.”
27Johannes het daarop reageer: “’n Mens is nie in staat om iets te ontvang as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee is nie. 28Julle self is my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Messias nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’ 29Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort; die vriend van die bruidegom gaan staan en luister of hy kom, en hy is sommer baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom loop ek nou oor van blydskap. 30Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem.
31“Hy wat van bo kom, troon bo almal uit. Hy wat uit die aarde ontspring het, is deel van die aarde en praat as deel van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, troon bo almal uit. 32Wat Hy gesien en gehoor het, daaroor getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie. 33Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur verseël dat God regtig God is. 34Hóm het God gestuur om die woorde van God mee te deel, want God gee Hom sy Gees sonder om dit af te meet. 35Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee. 36Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.”

Currently Selected:

JOHANNES 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy