NUMERI 25

25
Afgodsdiens by Sittim
1Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad. 2Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid. 3So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam 4en Hy het vir Moses gesê: “Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie.”
5Moses het toe vir die stamhoofde van Israel gesê: “Julle moet elkeen julle eie manne wat vir Baäl-Peor aangehang het, doodmaak.”
6Onder dit alles het 'n Israelitiese man tog nog 'n Midianitiese vrou tussen sy familie in gebring. Hy het dit gedoen voor die oë van Moses en die hele gemeente van Israel wat by die ingang van die tent van ontmoeting gestaan en huil het. 7Toe Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, sien wat die man doen, het hy uit die gemeente opgestaan, 'n spies gevat 8en die man na die vrouetent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur die man tot in die onderlyf van die vrou. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot 'n einde gekom; 9daar het vier en twintig duisend deur die ramp gesterf.
10Die Here het toe vir Moses gesê: 11“Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.
12“Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek 'n verbond met hom sluit wat hom vir altyd ten goede sal kom. 13Hierdie verbond verseker vir hom en vir sy nageslag 'n blywende priesterskap omdat hy vir die eer van sy God opgekom het en vir die Israeliete versoening gedoen het.”
14Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, was Simri seun van Salu, 'n vooraanstaande man uit die stam Simeon. 15Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, was Kosbi dogter van Sur, 'n stamhoof van Midian.
16Die Here het vir Moses gesê: 17“Julle moet die Midianiete as julle vyande beskou en hulle doodmaak 18omdat hulle vyandig opgetree het teen julle. Hulle het julle verlei deur julle in die strik te laat trap van Baäl-Peor en van hulle landgenoot Kosbi, 'n Midianitiese stamhoof se dogter wat doodgemaak is toe die ramp julle oor Peor getref het.”

Tans Gekies:

NUMERI 25: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid