MATTEUS 26:14-25

MATTEUS 26:14-25 AFR83

Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?” Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 26:14-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid