JESAJA 1:1-20

JESAJA 1:1-20 AFR83

Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda. Luister, hemele, gee aandag, aarde, want die Here het gesê: Ek het kinders grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in opstand gekom. 'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie. Ellende wag vir julle, sondige nasie, volk met skuld belaai, geslag wat verkeerd handel, julle wat net afbreek, wat My, die Here, verlaat het, My, die Heilige van Israel, verag en vir My die rug gedraai het. Daar is nie meer plek waar nog aan julle geslaan kan word nie, en tog hou julle aan om van My af weg te draai. Die hele kop is vol seerplekke en die hele gestel is verswak. Van kop tot tone is daar nie een plek heel nie: dit is die ene kneusplekke, hale en rou wonde! Hulle is nie skoongemaak of verbind of met salf behandel nie. Julle land is verwoes, julle stede is verbrand, voor julle oë verteer vreemdes julle landerye. Hulle het dit 'n verlate wêreld gemaak. Soos 'n skerm in 'n wingerd het Sion alleen oorgebly, soos die hut van 'n wagter in 'n komkommertuin. Sion is 'n beleërde stad. As die Here die Almagtige nie 'n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het. Luister na die woord van die Here, julle Sodomsleiers! Gee ag op wat ons God julle leer, julle Gomorrasvolk! Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van voerbeeste; die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie. As julle kom om voor My te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het 'n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir My 'n las, Ek is moeg daarvoor. As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek. Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees. Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid