EKSODUS 3:1-18

EKSODUS 3:1-18 AFR83

Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: “Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.” Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag. “Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.’ “Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, 'n offer te bring.’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid