HANDELINGE 16:6-15

HANDELINGE 16:6-15 AFR83

Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. Daarvandaan is ons na Filippi toe, 'n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae gebly. Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou 'n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was 'n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid