JOSUA 2

2
Die verkenners in Jerigo
1Josua seun van Nun het van Sittim af in die geheim twee verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur, veral Jerigo.”
Hulle is toe weg en het uitgekom by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab en daar tuis gegaan. 2Die koning van Jerigo het berig gekry dat daar in die nag van die Israeliete af mense aangekom het om die land te verken, 3en hy het vir Ragab laat weet: “Lewer die manne uit wat na jou toe, na jou huis toe, gekom het. Hulle is hier om die land te verken.”
4Die vrou het die twee manne weggesteek en vir die koning laat weet: “Daar het manne by my aangekom, maar ek weet nie waarvandaan hulle is nie. 5Hulle het met donker vertrek toe dit tyd was vir die stadspoort om te sluit, en ek weet nie waarheen hulle is nie. Maak gou en agtervolg hulle. Miskien haal u hulle in.”
6Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het. 7Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit.
8Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak 9en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. 11Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.
12“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding 13dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”
14Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s'n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”
15Sy het hulle met 'n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het. 16Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.”
17Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind 18as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou. 19Enigeen wat by jou huis se deure uitgaan buitentoe, sal self vir sy dood verantwoordelik wees, nie ons nie. Ons hou ons verantwoordelik vir enigeen wat by jou in die huis is; daar sal nie 'n hand teen hom gelig word nie. 20En as jy oor ons praat, is ons nie gebind aan die eed wat jy ons laat aflê het nie.”
21Sy het gesê: “Laat dit wees soos julle gesê het,” en sy het hulle laat gaan en hulle is weg. Sy het toe die bloedrooi tou aan die venster vasgebind.
22Hulle het vertrek en is die berge in. Daar het hulle drie dae gebly tot die mense wat hulle gaan soek het, teruggekom het. Die mense het langs die hele pad gesoek en niks gekry nie. 23Daarna het die twee manne uit die berge teruggekom en is hulle die rivier oor na Josua seun van Nun toe. Hulle het hom alles vertel wat met hulle gebeur het. 24Hulle het vir Josua gesê: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.”

Tans Gekies:

JOSUA 2: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid