GENESIS 7

7
1Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin moet in die ark ingaan. Ek het jou gesien en onder hierdie geslag bevind Ek jou regverdig. 2Van al die rein diere moet jy sewe pare, manlik en vroulik, saamvat en van al die onrein diere net een paar, manlik en vroulik. 3Ook uit die voëls moet jy sewe pare, mannetjies en wyfies, saamvat. Dit moet jy doen om al die soorte op die hele aarde aan die lewe te laat bly. 4Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.”
5Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het.
6Noag was ses honderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het. 7Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het in die ark ingegaan vir die vloedwaters. 8Die rein en die onrein diere, die voëls, en die diere wat kruip, 9het in pare, manlik en vroulik, na Noag toe in die ark gekom soos God vir Noag gesê het. 10Op die sewende dag het die vloedwaters oor die aarde gekom.
11Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak, 12sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.
13Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het. 14Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan. 15Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom. 16Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.
17Die oorstroming het oor die aarde gekom, veertig dae lank, en die water het al hoe meer geword. Dit het die ark opgelig en die ark het begin opstyg bokant die aarde. 18Maar die waters het nog meer en nog sterker geword op die aarde en die ark het op die waters begin dryf. 19Die waters op die aarde het nog meer en meer geword, sodat hulle al die hoë berge wat daar onder die hemel is, bedek het. 20Die water het amper sewe meter bokant die berge gestyg en dit bedek.
21Al wat op die aarde geleef het, het omgekom: diere wat kruip, voëls, mak diere, wilde diere, ja, alles wat op aarde wemel, ook al die mense; 22alles wat die lewensasem in die neus gehad het, alles wat op land geleef het, is dood. 23So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar. 24Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.

Tans Gekies:

GENESIS 7: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid