GENESIS 41:37-57

GENESIS 41:37-57 AFR83

Die farao en al sy amptenare het Josef se raad goedgevind. Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?” Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis. “My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.” Die farao het verder nog vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.” Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: “Betoon hom eer!” So is Josef oor die hele Egipte aangestel. Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit nie.” Die farao het Josef Safenat-Paneag genoem en vir hom Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, as vrou gegee. Josef was dertig jaar oud toe hy in die diens van die farao die koning van Egipte getree het. Josef is van die farao af weg en het die land deurgegaan, die hele Egipte. Tydens die sewe jaar van oorvloed het die land 'n buitengewone groot oes gegee, en Josef het al die graan wat daar in hierdie jare in Egipte was, bymekaargebring en in graanskure gebêre: in elke stad is die graan uit die lande van daardie omgewing gebêre. Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel. Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring. Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.” Na die sewe jaar voorspoed in Egipte het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos, want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.” Oor die hele wêreld was daar hongersnood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop. En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid