GENESIS 41:1-32

GENESIS 41:1-32 AFR83

Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan. Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op. Daarna het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom. Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie. Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het. U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag. “Daar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg. Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom. Soos hy dit vir ons uitgelê het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.” Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe. Die farao het vir Josef gesê: “Ek het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê 'n droom uit as jy hom hoor.” Josef het vir die farao gesê: “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.” Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan. Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie. Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin. “Toe het ek wakker geskrik. “Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in. “Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.” Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel. “Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood. “Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen. “Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring. Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid