EKSODUS 5:1-21

EKSODUS 5:1-21 AFR83

Daarna het Moses en Aäron na die farao toe gegaan en gesê: “So sê die Here die God van Israel: Laat my volk gaan om tot my eer 'n fees in die woestyn te vier.” Maar die farao het geantwoord: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie!” Hulle sê toe: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise die woestyn in trek om 'n offer vir ons God, die Here, te bring, anders tref Hy ons dalk met die pes of die swaard.” Maar die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe! Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!” Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: “Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’ Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.” Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: “So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie. Loop haal dit self waar julle dit ook al kan kry, maar aan die hoeveelheid werk word niks verminder nie.” Die volk het toe dwarsoor Egipte stoppels bymekaargemaak, en die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Julle moet nog elke dag net soveel lewer soos toe daar nog strooi verskaf is.” Boonop het die farao se slawedrywers die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gesê: “Waarom het julle nie vandag net soos vroeër dieselfde hoeveelheid stene gemaak nie?” Die Israelitiese opsigters kom kla toe by die farao: “Waarom maak u so met u werksmense? Daar word nie meer strooi aan ons verskaf nie, en tog bly die drywers vir ons sê: ‘Maak bakstene!’ Ons word mishandel, maar eintlik lê die fout by ú mense.” Toe sê die farao: “Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle bly sê: ‘Ons wil vir die Here gaan offer.’ Loop! Gaan werk! Hulle sal nie meer vir julle strooi gee nie, maar julle kwota bakstene sal julle lewer.” Toe die farao vir die Israelitiese opsigters sê dat die daaglikse kwota bakstene nie verminder gaan word nie, het hulle besef watter ramp hulle getref het. Moses en Aäron het hulle buite ingewag, en toe die opsigters van die farao af by hulle kom, sê hulle vir Moses en Aäron: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao en sy amptenare en vir hulle 'n swaard in die hand gegee het om ons mee dood te maak.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid