2 KRONIEKE 6:12-42

2 KRONIEKE 6:12-42 AFR83

Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit. Hy het op 'n bronsverhoog gestaan wat hy gemaak het en in die voorhof gesit het. Dit was twee en 'n half meter lank, twee en 'n half meter breed, een en 'n half meter hoog. Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so, soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het. “Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan. “Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog! “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel. “Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart, sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het, luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning. “Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee sodat hulle as gevangenes weggevoer word na 'n land, ver of naby, en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig’, en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle gevangenskap en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het. “My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan. “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid