2 KRONIEKE 3

3
Die bou van die tempel
(Vgl. 1 Kon. 6:1-38; 7:15-51)
1Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna die Jebusiet was. 2Hy het begin bou op die tweede van die tweede maand, in die vierde jaar van sy regering.
3Die grondplan waarvolgens Salomo die tempel van God gebou het, was soos volg: die lengte volgens die ou maat was dertig meter, en die breedte tien meter.
4Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die hoogte daarvan was sestig meter. Salomo het dit aan die binnekant met suiwer goud oorgetrek.
5Die groot vertrek het hy met sipreshout uitgevoer, met egte goud oorgetrek en daarop palms en kettings laat uitsny. 6Hy het die vertrek versier met kosbare edelstene. Die goud was Parwajimgoud. 7So het hy die hele vertrek met goudplaat oorgetrek, die balke, drumpels, mure en deure daarvan, en aan die mure het hy ook nog gerubs laat uitsny.
8Die Allerheiligste het hy tien meter lank gemaak, net so lank as wat die gebou breed was. Die breedte daarvan was ook tien meter. Hy het die vertrek met egte goud oorgetrek, sowat twintig ton. 9Die goue spykers het bietjie meer as 'n halwe kilogram geweeg. Ook die bovertrekke het hy met goud oorgetrek.
10In die Allerheiligste het hy twee gerubs gemaak, gegote stukke, en hulle ook met goud oorgetrek. 11Die vlerke van die gerubs was saam tien meter lank. Die een gerub se een vlerk het aan die een muur van die vertrek geraak, en sy ander vlerk aan dié van die ander gerub. 12Die een vlerk van die ander gerub het aan die ander muur van die vertrek geraak, en sy ander vlerk was vas aan die ander gerub s'n. Elke vlerk was twee en 'n half meter lank. 13Die vlerke van hierdie gerubs het dus tien meter ver gereik. Hulle het op hulle eie voetstukke gestaan met die gesigte na die groot vertrek toe.
14Die voorhangsel het hy gemaak van blou, pers en bloedrooi wol en van linne, en daarop gerubs laat uitwerk.
15Voor die tempel het hy twee pilare opgerig, sewentien en 'n half meter hoog, met 'n kapiteel van twee en 'n half meter op elkeen. 16Hy het kettings gemaak vir 'n krans en dit bo-aan die pilare aangebring. Daarna het hy honderd granate gemaak en aan die kettings vasgesit. 17Die pilare het voor die tempel gestaan, een regs en een links. Die regterkantste het hy Jakin genoem en die linkerkantste Boas.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid