2 KRONIEKE 29

29
Hiskia laat die tempel skoonmaak
1Hiskia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria. 2Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg.
3Hy het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en hulle herstel. 4Daarna het hy die priesters en die Leviete laat kom en hulle op die Oosplein bymekaargebring 5en toegespreek: “Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die heiligdom uit. 6Ons voorvaders was ontrou en het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here ons God. Hulle het Hom verlaat, die woning van die Here nie versorg nie en dit die rug toegekeer. 7Hulle het boonop die deure van die ingangsportaal gesluit, die lampe laat doodgaan en geen wierookoffer of brandoffer vir die God van Israel gebring in die heiligdom nie. 8Daarom het die toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het van hulle iets gemaak waaroor mense net met afgryse vervul kan word en die hande van verbasing inmekaar kan slaan en kan fluit, soos julle met julle eie oë sien. 9Ons vaders het gesneuwel, ons seuns en ons dogters en ons vrouens het gevangenes geword deur dié dinge. 10En nou het ek my voorgeneem om 'n verbond te sluit met die Here die God van Israel, sodat die gloed van sy toorn van ons weggeneem sal word. 11Spring nou aan die werk, my seuns, want die Here het julle gekies om voor Hom diens te doen en sy dienaars te wees wat vir Hom offerandes moet bring.”
12Toe het die volgende Leviete na vore getree: uit die Kehatgroep Magat seun van Amasai, en Joël seun van Asarja; uit die Merarigroep Kis seun van Abdi, en Asarja seun van Jehallelel; uit die Gersongroep Joag seun van Simma, en Eden seun van Joag; 13uit die Elisafangroep Simri en Jeïel; uit die Asafgroep Sagaria en Mattanja; 14uit die Hemangroep Jegiël en Simi; en uit die Jedutungroep Semaja en Ussiël. 15Hulle het hulle ampsgenote bymekaargeroep, almal het hulle gereinig en het toe die huis van die Here gaan skoonmaak soos die koning beveel het in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.
16Die priesters het die huis van die Here binne gaan skoonmaak. Hulle het alles wat nie rein was nie, wat hulle in die tempel van die Here gekry het, na die voorhof toe uitgebring, en die Leviete het dit gevat en dit buite in die Kedrondal gaan weggooi.
17Hulle het met die reiniging begin op die eerste dag van die eerste maand, en op die agste dag van die maand het hulle by die ingangsportaal van die Here uitgekom. Daarna het dit hulle nog ag dae gekos om die huis van die Here te reinig. Op die sestiende dag van die eerste maand was hulle klaar. 18Toe het hulle by koning Hiskia in die paleis verslag gaan doen: “Ons het die hele huis van die Here gereinig, ook die brandofferaltaar met sy toebehore en die tafel vir die offerbrood met sy toebehore, 19en ons het verder al die goed wat koning Agas in sy regeringstyd ontwy laat raak het deur sy troueloosheid, in hulle oorspronklike staat herstel en gewy. Hulle is daar voor die altaar van die Here.”
Die heringebruikneming van die tempel
20Die volgende môre vroeg het koning Hiskia al die stadsamptenare laat bymekaarkom en is hy na die huis van die Here toe. 21Hulle het sewe jong bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring as sondeoffers vir die koningskap, die heiligdom en Juda. Die koning het die priesters uit die geslag van Aäron beveel om die offerandes op die altaar van die Here te sit. 22Die priesters het die beeste geslag, die bloed opgevang en dit oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die skape geslag en die bloed oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die lammers geslag en die bloed ook oor die altaar gesprinkel. 23Toe het hulle die sondeofferbokke voor die koning en die gemeente gebring en hulle hande op die diere gelê, 24en daarna het die priesters hulle geslag en die bloed as 'n sondeoffer uitgegiet op die altaar om vir die hele Israel versoening te doen. Die koning het bepaal dat die brandoffer en die sondeoffer vir die hele Israel moes wees.
25Die koning het die Leviete plek laat neem met simbale, harpe en liere in die huis van die Here volgens die opdrag van Dawid en van Gad, die siener van koning Dawid, en van die profeet Natan, want dit was 'n opdrag wat van die Here self gekom het deur middel van sy profete. 26Die Leviete het reggestaan met die instrumente van Dawid, en die priesters met trompette. 27Hiskia het opdrag gegee dat die brandoffer op die altaar gesit moet word, en die oomblik toe die offer begin, het die lied van die Here begin, die trompette geblaas en die musiekinstrumente van Dawid koning van Israel gespeel. 28Terwyl die sang weerklink en die trompette skal, het die hele gemeente in aanbidding gebuig. Dit het alles aangehou tot die offer afgehandel was. 29Toe die offer afgehandel was, het die koning en almal wat by hom was, gekniel en gebuig. 30Hy en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf. Die Leviete het die lofliedere vol vreugde gesing en op hulle knieë geval en vooroor gebuig.
31Hiskia het weer die woord geneem en vir die volk gesê: “Julle is nou aan die Here gewy. Bring nou julle diereoffers en julle dankoffers vir die huis van die Here.”
Die gemeente het toe diereoffers en dankoffers gebring en elkeen wat wou, het vrywillig ook nog brandoffers gebring. 32Die getal brandoffers wat die gemeente gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme en twee honderd lammers, alles brandoffers vir die Here. 33Die wydingsgeskenke was ses honderd beeste en drie duisend stuks kleinvee. 34Maar daar was te min priesters en hulle kon nie alleen al die offerdiere slag nie. Toe het hulle ampsgenote, die Leviete, hulle gehelp tot die werk klaar was en al die priesters hulleself gewy het, want die Leviete was pligsgetrouer met die wyding as die priesters. 35Daar was boonop nog 'n groot aantal brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers en die drankoffers wat by die brandoffers gebring moes word. So is die tempeldiens weer gevestig. 36Hiskia en al die mense was bly oor wat God vir die volk beskik het, want die hele saak is vinnig afgehandel.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid