1 SAMUEL 5

5
Die Here tref die Filistyne
1Die Filistyne het die ark van God gevat en dit van Eben-Haeser af na Asdod toe gebring. 2Ja, die Filistyne het die ark van God gevat. Hulle het dit na die tempel van Dagon toe gebring en langs Dagon neergesit. 3Toe die Asdodiete die volgende môre opstaan, het Dagon vooroorgeval op die grond gelê, voor die ark van die Here. Hulle het vir Dagon opgetel en op sy plek teruggesit. 4Die volgende dag het hulle vroeg opgestaan, en Dagon het weer vooroorgeval op die grond gelê, voor die ark van die Here. Die kop van Dagon en sy twee hande het afgebreek op die drumpel gelê, net sy lyf het oorgebly. 5Daarom trap die priesters van Dagon, en almal wat in Dagon se tempel ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van die Dagonstempel in Asdod nie.
6Die Here het die Asdodiete swaar gekasty: Hy het Asdod en sy gebied in beroering gebring en hulle met pesswere getref. 7Toe die mense van Asdod sien dat dit so gaan, sê hulle: “Die ark van die God van Israel mag nie by ons bly nie, want sy hand lê swaar op ons en ons god Dagon.”
8Hulle het boodskappers gestuur en al die regeerders van die Filistyne in Asdod laat bymekaarkom en gevra: “Wat moet ons maak met die ark van die God van Israel?”
Die regeerders het gesê: “Die ark van die God van Israel moet na Gat toe gevat word.”
Hulle het toe die ark van die God van Israel daarheen gebring, 9en nadat hulle dit gedoen het, het die Here 'n baie groot beroering in die stad veroorsaak. Hy het die mense van die stad, klein en groot, met 'n plaag getref. Ook by húlle het daar pesswere uitgebreek.
10Daarna het hulle die ark van God weggestuur na Ekron toe. Toe die ark van God in Ekron kom, het die Ekronners geskreeu: “Hulle het die ark van die God van Israel na ons toe gebring om ons en ons mense dood te maak.”
11Hulle het boodskappers gestuur en al die regeerders van die Filistyne laat bymekaarkom en gesê: “Stuur weg die ark van die God van Israel. Laat dit na sy eie plek toe teruggaan sodat dit ons en ons mense nie doodmaak nie.”
Daar was 'n dodelike siekte in die hele stad. Die hand van God het swaar gelê op hulle: 12die mense wat nie gesterf het nie, is met pesswere getref. Die geskreeu in die stad kon baie ver gehoor word.

Tans Gekies:

1 SAMUEL 5: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid