1 SAMUEL 4:1-11

1 SAMUEL 4:1-11 AFR83

Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig. Op 'n keer het Israel teen die Filistyne gaan oorlog maak. Die Israeliete het by Eben-Haeser kamp opgeslaan, en die Filistyne by Afek. Hulle het hulle leër teenoor Israel laat stelling inneem, en toe die geveg ontplooi, is Israel deur die Filistyne verslaan. Hulle het omtrent vier duisend man op die slagveld afgemaai. Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande.” Die manskappe het na Silo toe gestuur, en die verbondsark van die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon, van Silo af laat bring. Eli se seuns Hofni en Pinehas was ook by die verbondsark van God. Toe die verbondsark van die Here in die laer kom, het die hele Israel so hard geskreeu dat die aarde weergalm het. Die Filistyne het die geskreeu gehoor en gevra: “Wat vir 'n geskreeu is dit daar in die laer van die Hebreërs?” Die Filistyne het toe uitgevind dat die ark van die Here in die kamp aangekom het. Hulle het bang geword, want hulle het gesê: “God het in die kamp gekom.” Verder het hulle gesê: “Dis klaar met ons, want so iets het nog nooit gebeur nie. Dis klaar met ons! Wie sal ons red uit die mag van hierdie geweldige God? Dit is dié God deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae. Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!” Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was 'n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval. Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 SAMUEL 4:1-11

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid