1 SAMUEL 23:19-28

1 SAMUEL 23:19-28 AFR83

Daarna het Siffiete na Saul in Gibea toe gegaan en gesê: “Dawid kruip by ons weg in die skuilplekke in Goresa, op die Gakilarant suid van die onherbergsame gebied. U Majesteit, as dit dan nou u begeerte is om op te trek, trek op en ons sal sorg dat hy aan u uitgelewer word.” Toe antwoord Saul: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel. Gaan dan nou, stel weer vas waar Dawid is, kyk goed en verken die plek: waar sy spore is en wie hom daar gesien het, want iemand het vir my gesê hy is baie uitgeslape. Gaan kyk en stel haarfyn vas waar hy oral skuil. Bring vir my sekerheid terug. Dan sal ek saamgaan. Indien hy nog in die land is, sal ek hom opspoor met al die afdelings van Juda.” Die Siffiete het klaargemaak en voor Saul uit na Sif toe gegaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die vlakte suid van die onherbergsame streek. Toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, is dit aan Dawid vertel, en hy het na die kliprant toe gegaan, nog in die Maonwoestyn. Saul het dit verneem en Dawid in die Maonwoestyn agtervolg. Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan, en Dawid en sy manne net aan die ander kant. En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang, kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: “Maak gou en kom, want die Filistyne het die land ingeval.” Saul het opgehou om Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Daarom noem hulle die plek Skeidingsrant.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 SAMUEL 23:19-28

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid