1 SAMUEL 22

22
Dawid skuil in Moab
1Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe. 2Verder het elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom. 3Daarvandaan het Dawid na Mispe in Moab toe gegaan en vir die koning van Moab gevra: “Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen.”
4Dawid het hulle toe in die sorg van die koning van Moab gelaat. Hulle het by hom gebly so lank as Dawid in die bergskuiling was. 5Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die skuiling bly nie. Trek weg en gaan na Juda toe.”
Dawid het toe na die Geretbos toe gegaan.
Saul laat die priesters van Nob doodmaak
6Terwyl Saul in Gibea op 'n hoogte onder 'n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. 7Saul het vir sy amptenare wat by hom staan, gesê: “Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai miskien ook vir julle almal velde en wingerde gee en julle almal aanstel as leiers van duisende en leiers van honderde? 8Julle almal het saamgesweer teen my. Niemand het my vertel dat my seun 'n verbond met die seun van Isai gesluit het nie; niemand van julle het medelye met my nie; niemand het my vertel dat my seun 'n amptenaar van my teen my opmaak, sodat hy vandag vir my 'n bedreiging is nie.”
9Doëg die Edomiet het tussen die amptenare van Saul gestaan en hy het gesê: “Ek het die seun van Isai gesien toe hy in Nob by Agimelek seun van Agitub gekom het. 10Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.”
11Daarop het die koning gestuur om die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, te ontbied, en hulle het almal na die koning toe gekom.
12Saul het toe gesê: “Luister, seun van Agitub.”
En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.”
13En Saul het vir hom gevra: “Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en 'n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my 'n bedreiging is?”
14Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis. 15Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”
16Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.”
17Toe beveel die koning die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.”
Maar die amptenare van die koning wou nie 'n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie.
18Toe sê die koning vir Doëg: “Spring onder hulle in en val die priesters aan.”
Doëg die Edomiet het onder hulle ingespring, die priesters aangeval en daardie dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.
Abjatar vlug na Dawid toe
19Nob, die dorp van die priesters, is met die swaard uitgewis: man en vrou, kind en suigling, bees en donkie en kleinvee. 20Maar een seun van Agimelek seun van Agitub het ontkom. Sy naam was Abjatar en hy het agter Dawid aan gevlug. 21Abjatar het aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het.
22Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel. 23Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Maar jy is veilig by my.”

Tans Gekies:

1 SAMUEL 22: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid