GÉNESIS 15

15
Verbond van God met Abram.
1NÁ hierdie dinge het die woord van die Here tot Abram gekom in 'n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.
2Toe vra Abram: Here Here, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is?
3Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.
4Toe kom die woord van die Here tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.
5Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.
6En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
7Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die Here wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.
8En hy sê: Here Here, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?
9En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif.
10En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
11Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.
12En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.
13Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.
14Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.
15Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.
16En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.
17En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.
18Op dié dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:
19die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete
20en Hetiete en Feresiete en Refaïete
21en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.

Tans Gekies:

GÉNESIS 15: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid