ROMEINE 2

2
Onboetvaardigheid van die Jode. Geregtigheid van God.
1DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.
2En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen.
3En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug?
4Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?
5Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as 'n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God
6 wat elkeen sal vergeld na sy werke:
7aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek — die ewige lewe;
8maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is — grimmigheid en toorn;
9verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek;
10maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood eerste en ook vir die Griek.
11Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.
12Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word;
13omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word.
14Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie;
15omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,
16 in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.
Die Jode het geen verontskuldiging nie. Die ware besnydenis.
17KYK, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God,
18en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word,
19en jy is oortuig dat jy 'n leidsman is van blindes, 'n lig vir die wat in duisternis is,
20'n opvoeder van onverstandiges, 'n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het —
21 jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy?
22Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat 'n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?
23Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?
24Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster.
25 Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword.
26 As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie?
27En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis 'n oortreder van die wet is nie?
28Want nie hý is 'n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;
29maar hy is 'n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Tans Gekies:

ROMEINE 2: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid