SPREUKE 30

30
1Die woorde van Agur seun van
Jake. ’n Uitspraak.
Die man het vir Itiël gesê,
vir Itiël en vir Ukal#30:1 Die betekenis van die grondteks is onduidelik. Dit kan ook vertaal word as Die man het vir Itiël, vir Itiël en Ukal gesê. Of God, ek is vermoeid, ek is vermoeid, o God, ek gee op.:
2Ek is te onkundig
om ’n mens te wees.#30:2 Of Ek is nader aan ’n dier as aan ’n mens.*
Ek het nie eens die verstand
van ’n mens nie.
3Ek het nie wysheid
aangeleer nie.
Ek ken nie die heilige God nie.
4Wie kan na die hemel toe gaan
en van daar af ondertoe kom?
Wie kan die wind
in sy twee hande vashou?
Wie kan die waters
in sy jas toedraai?
Wie het die wye wêreld gemaak?
Wat is sy naam?
En die naam van sy seun?
Sê tog as jy dit weet!
5Elke woord van God
is getoets.
Hy beskerm elkeen
wat beskerming
by Hom kom soek.
6Moenie iets byvoeg
by wat Hy gesê het nie.
Hy sal jou straf.
Jy sal leuenaar genoem word.
7Twee dinge wil ek van U vra.
Moenie dit weier
solank ek leef nie.
8In die eerste plek,
keer tog dat ek lieg.
In die tweede plek,
laat my nie arm of ryk
wees nie.
Gee asseblief vir my
net dit wat nodig is.
9As ek te veel het,
sal ek U verloën
en vra: “Nou wie is die Here?”
As ek te arm is, sal ek steel
en my God se Naam beswadder.
10Moet nooit ’n slaaf
vals beskuldig
by sy eienaar nie.
Hy sal jou vervloek
en dan moet jy
die gelag betaal.
11Party mense vervloek
hulle pa
en weier
om hulle ma te seën.
12Dis mense wat dink
hulle is foutloos,
maar die vuil kan nooit
van hulle afgewas word nie.
13Hulle is vol hoogmoed
en vol van hulleself.
14Hulle het tande soos swaarde
en slagtande soos messe.
Hulle teer op die hulpeloses
en die armes onder mense.
15Die bloedsuier
het twee dogters.
Die een se naam is “Gee!”
en die ander s’n ook “Gee!”.
Daar is drie dinge,
nee, eintlik vier,
wat nooit tevrede is nie:
16die doderyk,
die onvervulde begeerte
om ma te word,
grond wat uitgedor is,
’n vuur wat alles wil verteer.
17Die oë van ’n man
wat spot met sy pa,
en hy wat ongehoorsaam is
aan sy ma –
die kraaie in die droë lope
sal sy oë uitpik;
en roofvoëls sal hom opvreet.
18Daar is drie dinge
wat vir my te verbasend is,
nee, eintlik is daar vier
wat ek glad nie kan verstaan nie:
19hoe ’n arend
in die lug kan bly,
hoe ’n slang
teen ’n rots kan uitseil,
hoe ’n skip
op die see kan vaar
en hoe ’n man
die hart van ’n meisie wen.
20Net so verbasend is dit
wanneer ’n wellustige vrou
haar seksuele sin kry,
haar mond afvee
en dan kan sê:
“Ek het niks verkeerds
gedoen nie.”
21Daar is drie,
nee, eintlik vier dinge
wat die lewe op aarde
ondraaglik maak:
22’n slaaf
wat koning geword het,
’n dwaas
wat hom vol geëet het,
23’n vrou
wat nie ’n man kon kry nie
en toe tog getrou het,
en ’n bediende
wat by haar eienares
oorgeneem het.
24Daar is vier goed op aarde
wat klein is,
maar uitsonderlik wys:
25miere
wat nie sterk is nie,
maar tog reeds weet
om in die somer kos weg te sit;
26dassies
wat nie baie krag het nie,
maar tog tussen die rotse bly;
27sprinkane
wat nie ’n koning het nie,
en tog in gelid beweeg;
28geitjies
wat jy met die hande vang,
maar tog
in paleise van konings bly.
29Daar is drie, nee, eintlik vier
wat pronkerig kan beweeg:
30’n leeu, die koning van die diere,
wat vir niks uitdraai nie;
31’n oorlogsperd;
’n bokram;
’n koning omring
deur sy leër.
32As jy dom opgetree het
deur jou aan te matig
of slegte dinge beplan het,
sit dan jou hand voor jou mond.
33Melk wat gekarring word,
maak botter.
’n Hou op die neus
laat die bloed loop.
As jy mense kwaad maak,
gaan daar rusie kom.

Tans Gekies:

SPREUKE 30: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid