MARKUS 12

12
Gelykenis van die slegte druiweboere
1Toe het Jesus vir hulle begin gelykenisse vertel: Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het. Hy het ’n klipmuur daar rondom gebou, ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy die wingerd aan boere verhuur en na die buiteland vertrek. 2Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur om ’n deel van die druiwe-oes te gaan haal. 3Maar hulle het hom gegryp en geslaan en met leë hande teruggestuur.
4Die eienaar het toe nog ’n slaaf gestuur, maar hulle het dié oor die kop geslaan en beledig. 5Die volgende een het hulle doodgemaak. Hy het nog baie ander gestuur – sommige het hulle geslaan en ander vermoor.
6Uiteindelik was daar nog net een persoon oor – sy seun vir wie hy innig lief was. Einde ten laaste stuur hy hom na hulle toe met die gedagte: “Hulle sal tog sekerlik my seun spaar.”
7Maar toe sê daardie boere vir mekaar: “Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, dan is die erfdeel ons s’n.” 8Hulle het hom doodgemaak en sy liggaam buitekant die wingerd weggegooi.
9“Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd doen?” vra Jesus. “Ek sal vir julle sê: Hy sal kom en hulle om die lewe bring en die wingerd aan ander mense verhuur. 10Julle het tog sekerlik al in die Skrif gelees:
‘Juis daardie klip
wat die bouers afgekeur het,
Hý het die hoekklip
van die gebou geword.
11Dit is die Here wat dit gedoen het
en dit is vir ons wonderlik!’#12:10-11 Ps 118:22-23.
12Die Joodse leiers wou Jesus toe arresteer, want hulle het besef dat Hy hierdie gelykenis op hulle gemik het. Maar hulle was lugtig vir die skare en het Hom toe daar gelaat en weggegaan.
Behoort mense belasting te betaal?
13Die leiers het ’n aantal Fariseërs en ondersteuners van Herodes gestuur om Jesus in ’n strik te laat trap. 14Hulle kom vra Hom toe: “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is. U ontsien niemand nie, want u word nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Inteendeel, u leer mense wat God van ons verwag sonder om doekies om te draai. Sê nou vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?”
15Jesus het egter deur hulle onderduimsheid gesien en sê vir hulle: “Hoekom probeer julle My uitvang? Bring vir My ’n Romeinse muntstuk#12:15 Grondteks denarius, ’n tipiese dagloon vir ’n arbeider. dat Ek daarna kan kyk.” 16Toe hulle dit vir Hom bring, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?”
Hulle het Jesus geantwoord: “Die keiser s’n.”
17“Wel,” het Hy gesê, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.
Daar is beslis ’n opstanding
18Toe kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende: 19“Leermeester, Moses het vir ons ’n wet gegee wat bepaal dat as iemand sterf en sy vrou kinderloos agterlaat, sy broer met die weduwee moet trou en so vir hom ’n nageslag verwek.#12:19 Deut 25:5. 20Nou was daar sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf. 21Die tweede een het toe met haar getrou, maar ook kinderloos gesterf. So ook die derde een. 22So het dit aangegaan totdat al sewe gesterf het sonder om kinders agter te laat. Laaste van almal is die vrou ook dood. 23Sê nou vir ons wie se vrou sal sy by die opstanding wees. Al sewe was tog met haar getroud.”
24Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie. 25Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees. 26En wat die kwessie van die opstanding van die dooies betref – het julle nie raakgelees wat daar in die boek van Moses staan, by die gedeelte oor die brandende doringbos nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers vir Moses gesê: ‘Ek is die God van Abraham en Isak en Jakob.’#12:26 Eks 3:6. 27Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie. Julle is dus totaal verkeerd.”
Liefde is die heel belangrikste opdrag
28Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?”
29Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here. 30Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel#12:30 Siel dui hier die setel van emosies aan., met jou totale verstand en met al jou krag.’#12:29-30 Deut 6:4-5. 31Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’#12:31 Lev 19:18. Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”
32Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is. 33En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.”
34Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie.
Jesus stel ook ’n strikvraag
35Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is? 36Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê:
‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand#12:36a Die regeerposisie.
totdat Ek jou vyande
heeltemal aan jou
onderwerp#12:36b Grondteks onder jou voete geplaas. het.’#12:36c Ps 110:1.
37“Dawid noem Hom tog self Here. Hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?”
Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister.
Jesus waarsku teen die skrifkenners
38In sy onderrig het Jesus ook nog gesê: “Oppas vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met swierige klere te paradeer en om op die dorpspleine begroet te word. 39En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke in die sinagoges en by feesmaaltye nie! 40Hulle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal hulle ekstra swaar gestraf word.”
’n Brandarm weduwee se kosbare gawe
41Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.
42Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies#12:42 Grondteks twee lepta, dit is ’n kodrantes. ’n Lepton was die tweede kleinste kopergeldstukkie van skaars een gram. in. 43Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander. 44Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Tans Gekies:

MARKUS 12: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid