2 TIMOTEUS 1

1
Paulus skryf aan sy geloofskind Timoteus en stuur ’n seëngroet
1Hierdie brief kom van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, uitgestuur om ander te gaan vertel van die lewe wat Hy beloof het deur geloof in Christus Jesus.
2Ek skryf aan Timoteus, my geliefde kind.
Mag God ons Vader en Christus Jesus ons Here aan jou genade, ontferming en vrede gee.
Koester die geestelike gawe wat God aan jou gegee het
3Timoteus, ek dank God vir jou. Hy is die God wat ek met ’n skoon gewete dien, net soos my voorouers gedoen het. Ek onthou jou voortdurend, dag en nag#1:3 Grondteks nag en dag., in my gebede. 4Ek verlang om jou weer te sien, want ek onthou jou trane toe ons uitmekaar is. En ek sal vol vreugde wees as ons weer bymekaar is. 5Ek dink terug aan jou opregte geloof. Eers het jou ouma Loïs en jou ma Eunice hierdie geloof gehad en – daarvan is ek seker – jy het dit ook.
6Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur aan te blaas. 7Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. 8Jy moet dus nooit skaam wees om van ons Here te getuig nie. En moet jou ook nie vir my skaam nie, al is ek ook in die tronk ter wille van Christus. Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly.
9Dit is God wat ons verlos
en gekies het om
’n toegewyde#1:9a Grondteks heilige. lewe te lei.
Hy het dit gedoen,
nie omdat ons dit verdien het nie,
maar omdat dit sy plan was
lank voor die begin van die wêreld,
naamlik om sy genade#1:9b Of onverdiende goedheid.
aan ons te bewys deur Christus Jesus.
10En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaak
deur die koms van Christus Jesus,
ons Verlosser,
wat die mag van die dood verbreek het
en aan ons, deur die Goeie Nuus,
die weg gewys het na die
onverganklike lewe.
11En God het my gekies om ’n prediker te wees, ’n apostel en ’n leermeester van dié Nuus. 12Dit is waarom ek hier in die tronk ly. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou#1:12 Of wat ek aan Hom toevertrou. het, tot op die dag van sy koms.
13Hou vas aan die maatstaf van gesonde lering wat jy van my geleer het. En onthou om te lewe in die geloof en liefde wat jy in Christus Jesus het. 14Bewaar met die hulp van die Heilige Gees wat in ons woon, die kosbare skat wat aan jou toevertrou is.
15Soos jy weet, het al die Christene wat uit die provinsie Asië#1:15 ’n Romeinse provinsie aan die weskus van Klein-Asië, met Efese as hoofstad. hier aangekom het, my in die steek gelaat – selfs Figelus en Hermogenes is weg. 16Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie. 17Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het. 18Mag die Here aan hom ontferming bewys op die dag van Christus se wederkoms. En jy weet hoe baie hy my in Efese gehelp het.

Tans Gekies:

2 TIMOTEUS 1: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid